Trajanus | |
---|---|
13de Keiser van die Romeinse Ryk | |
Regeer | 28 Januarie 98 – 8 Augustus 117 (vir 19 jare en 193 dae) |
Volle naam | Caesar Divi Nervae filius Nerva Trajanus Optimus Augustus Germanicus Dacicus Parthicus |
Gebore | 18 September 53; Italica, Hispanje |
Oorlede | 8 Augustus 117; Selinus, Kilikië (op 63) |
Begrawe | Rome |
Voorganger | Nerva |
Opvolger | Hadrianus |
Adellike huis | Nervo-Trajaanse dinastie |
Vader | Marcus Ulpius Traianus |
Moeder | Marcia |
Eggenote | Pompeia Plotina |
Kinders | Hadrianus |
Marcus Ulpius Traianus (* 18 September 53 moontlik in Italica of in Rome; † 8 Augustus 117 in Selinus, Kilikië), algemeen bekend as Trajanus, het tussen 98 en 117 as Romeinse keiser regeer. Trajanus, die eerste Romeinse keiser wat uit 'n provinsie afkomstig was, word in die Romeinse geskiedskrywing, wat tradisioneel deur senatore opgeteken is, as die beste Romeinse heerser of princeps (optimus princeps) beskryf. Volgens die Romeinse geskiedskrywer Tacitus het met Trajanus se troonbestyging 'n goue tydperk (beatissimum saeculum) begin. Sy binnelandse beleid is gekenmerk deur sosiale maatreëls en groot boubedrywighede en was veral daarop gemik om Italië se posisie binne die strukture van die ryk te versterk en die Romanisering van die provinsies te bevorder.
Ná 'n periode van vervolgings en teregstellings van Romeinse senatore laat in die regeringstyd van Domitianus en die einde van die Flaviese geslagslyn het Trajanus saam met sy voorganger Nerva die tradisie van adoptiefkeisers begin. Onder die heerskappy van Trajanus het die Romeinse Ryk in 116 n.C. met die verowering van Armenië, Mesopotamië en veral die Dakiese Ryk sy grootste omvang ooit bereik. Trajanus het as keiser blykbaar moeite gedoen om bewys te lewer vir sy daadkrag en sy vermoë om Rome se magsfeer uit te brei.
Met groot militêre vernuf het hy 'n reeks veldtogte gevoer, die Dakiese Ryk (geleë in die huidige Roemenië) verower, en in die suidooste teen die Partiërs te velde te trek. Sy militêre oorwinnings was die opspraakwekkendste Romeinse suksesverhale sedert die afsterwe van Augustus Octavianus in 14 n.C. wat die Romeinse invloedsfeer tot Mesopotamië uitgebrei het. Nogtans het hierdie sukses geblyk om net van kort duur te wees. Die Romeine het nie oor die finansiële middele en legioene beskik wat nodig was om alle verowerde gebiede te beheer en die ryksgrense te beskerm nie. Opstande in Sirië en Mesopotamië (in die gebied van die huidige Irak) moes neergeslaan word, terwyl tegelykertyd onluste onder die Joodse bevolking in Noord-Afrika en Egipte uitgebreek het.
Die bestryding van die onluste was 'n militêre en fisiese uitdaging vir Trajanus. Die Romeine het swaar verliese gely. Aangetas deur 'n siekte, was Trajanus uiteindelik genoodsaak om na Rome terug te keer, soos die historikus Cassius Dio later sou berig. Ná 'n bewind van 19 jaar is keiser Trajanus op 8 Augustus 117 in Selinus, 'n Kilikiese nedersetting aan die suidkus van Klein-Asië, oorlede. Die Romeinse Senaat het sy Optimus Princeps met 'n triomftog gevier. In die volgende eeue het Romeinse senatore nuwe heersers met die uitroep Felicior Augusto, melior Traiano gekroon - "Mag meer geluk aan jou beskore wees as aan Augustus, en mag jy 'n beter heerser wees as Trajanus."